Welkom by Eksderde


Eksderde het `n tuiste in Pretoria en Mosselbaai. Die Eksderde Kampterrein in Pretoria is ‘n lekker kampgrond met slaapplek vir 510 persone en is in die bos. Hier is ook baie wild….kom kyk! Eksderde hou elke maand `n gratis Mannekamp en `n gratis Vrouekamp, asook die eerste week van elke skoolvakansie ‘n Kinderkamp 8-13 jaar oud en ‘n Jeugkamp 14-19 jaar oud in die Bosveld. In Mosselbaai bied ons elke maand `n kamp aan, een maand n Mannekamp en die volgende maand n Vrouekamp . Ons doel om mense te evangeliseer met die Goeie Boodskap van verlossing, geregtigheid en ‘n hoopvolle toekoms wat in Christus Jesus gevind word. Ons visie is om mense uit hulle omgewing weg te vat, hulle by die Here uit te kry, toe te rus, te motiveer en hulle dan terug te stuur na hulle eie mense, hulle eie dorpe, hulle eie Kerke en hulle eie werke om daar ‘n verskil vir Jesus te gaan maak. Ons hart is om mense vir Jesus te wen en verhoudings te herstel.

EKSDERDE SE GESKIEDENIS

Mabula Manne en Vrouekampe het gedurende Julie 1998 ontstaan, en het voorheen kampe aangebied op ‘n Bosveld kampterrein binne die Mabula wildreservaat. Gedurende 1999 is ‘n bosveldplaas te Boschkop geskenk, wat toe ontwikkel is om meer aktiwiteite te akkommodeer. Die kampgronde is ontwikkel, en slegs twee kampe is daar aangebied voordat die Februarie 2000 vloede die kampterrein onherstelbaar beskadig en verspoel het. Kampe is daarna vir ‘n tyd lank op Pulani net buite Naboomspruit gehou. Sedert Mei 2000 het ons verskuif na die huidige Eksderde Kampterrein, ongeveer 25km Noord-Oos van Pretoria. Mabula Manne en Vrouekampe se naam is aan die einde van 1999 verander na Eksderde Manne en Vrouekampe. Vanaf November 2008 het Eksderde die kampe gratis aangebied. Eksderde Manne en Vrouekampe het van 2015-2017 verskillende terreine in George en Hartenbos gehuur terwyl ons ons eie terrein ontwikkel en bou. Van 2018 het ons op ons eie terrein wat bekend staan as Yellow Woods Camps and Conferences ook begin Manne, Vroue, Jeug en Kidskampe aanbied.

Brief van die Stigter: Jan Bronkhorst

Ek het my eerste kamp gedoen in Augustus 1992 by Woord in Aksie, en was daar betrokke tot 1997, waarna Woord in Aksie Pretoria toe geskuif het. Daarna het ek, Pierre Spies en Piet Smith vir ‘n jaar kampe gehou op Mabula. In 1998 het ek en n paar nuwe manne verder kampe gehou op Mabula. In 2000 het die naam verander na Eksderde kampe toe ons Pretoria skuif. Ons het vir 10 jaar kampe aangebied waar kampers aanvanklik R250 en later R350 per kamp betaal het. In 2008 tydens die ekonomiese insinking, weens die resessie, het ek ervaar dat die finansiele druk gepaard gaan met erge maatskaplike kwessies. Dit het Eksderde genoop om ‘n geloof stap te neem om die kampe gratis aan te bied. My ervaring was dat die mense wat die kampe die meeste benodig het, dit die minste kon bekostig, dus het Eksderde hul eerste gratis kamp in November 2008 aangebied. Van 2008 tot vandag is ALLE kampe gratis.