Die Eksderde-storie

Ons begin by die begin … en dit neem ons terug tot by Julie 1998, by die Mabula Manne- en Vrouekampe – gebore uit ’n visie dat lewens ingrypend deur die Goeie Nuus aangaande Jesus Christus geraak en getransformeer sou word.  In die beginjare was kampe aangebied op ’n Bosveld-kampterrein binne die pragtige Mabula Wildreservaat, waar baie mense betekenisvolle ontmoetings met die Lewende God gehad het.

In 1999 is ’n bosveldplaas te Boschkop aan ons geskenk – ’n mylpaal wat nuwe moontlikhede ontsluit het. Die terrein was netjies ontwikkel en so beplan dat meer mense geakkommodeer kon word.  Gedurende hierdie tydperk, en wel teen die einde van 1999 was die naam Mabula Manne en Vrouekampe verander na Eksderde Manne en Vrouekampe.  ’n Naam wat die hart en roeping van die bediening duideliker verwoord, naamlik:

JESUS EERSTE.  
Jy’s tweede.  
Eksderde.

Ongelukkig was slegs twee kampe op Boschkop aangebied voordat die verwoestende vloede van Februarie 2000 die kampterrein onherstelbaar beskadig en verspoel het.

Wat soos ’n einde gelyk het, was egter die begin van ’n nuwe hoofstuk …

Die tragedie het nie vir visie gestuit om steeds manne- en vrouekampe aan te bied nie.  En vir ’n tyd lank was kampe op Pulani aangebied, net buite Naboomspruit.  Die Here het ons groot guns gegee, want sedert Mei 2000 het die bediening sy tuiste gevind op die huidige Eksderde Kampterrein, ongeveer 25 km Noord-Oos van Pretoria – ’n plek waar die visie verder kon groei en vestig.

In November 2008 is ’n dapper en geloofsgedrewe besluit geneem om die kampe gratis aan te bied, sodat niemand ooit uitgesluit sou word nie.

Eksderde brei egter uit na die Suid-Kaap … Gedurende 2015 tot 2017 het Eksderde verskeie terreine in George en Hartenbos gehuur vir manne- en vrouekampte, terwyl daar hard gewerk is aan die ontwikkeling en bou van ’n tweede kampterrein.

Uiteindelik het die groot dag aangebreek in 2018 toe daar met manne- en vrouekampe op hierdie kampgronde, bekend as Yellow Woods Camps and Conferences, begin is.

Gedurende hier tydperk het Eksderde verder ontwikkel deur nie net manne- en vrouekampe aan te bied nie, maar ook jeug- en kinderkampe.

Wat in 1998 begin het, leef vandag voort as ’n getuienis van volharding, geloof en gehoorsaamheid – ’n reis waar uitdagings nooit die roeping kon stilmaak nie, maar dit net sterker gevorm het.

Jan vertel →